DIE “RUITER OP DIE VAAL PERD.” DIE GROOT VERDRUKKING.
Johannes openbaar: “En ek het gesien, en kyk, daar was ʼn vaal perd.
En hy wat daarop sit, sy naam is die dood en die doderyk het hom gevolg.
En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde, om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.”
(Openb. 6:7-8)
Ons sien deur die insig van die Heilige Gees, dat hierdie vierde deel, een kwart van die aarde is, dit wil sê die noord-oostelike kwadrant vanaf die Greenwich Meridiaan ooswaarts en noordwaarts vanaf die ewenaar, dit sluit in: Europa, Skandinawië, die Midde Ooste, Asië, Turkye, Sjina, Indië, Rusland, Japan en Afrika.
Met ander woorde: Hierdie lande sal vanweë die Islamitiese opstand, vanuit die Ooste, [die ruiter op die vuurrooi perd] teenoor die laaste wêreldorde, [die ruiter op die wit perd] vanuit die Weste, in oorlogvoering gewikkel wees, en dus die slagveld daarvan word!
Hierdie opstand, sal veroorsaak dat die ganse mensdom oor die hele wêreld vir ʼn tydperk van drie en ʼn half jaar deur ʼn Groot verdrukking van hongersnood geteister word.
Die profeet Daniël skryf, “En dit sal ʼn tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ʼn volk bestaan het tot op dié tyd nie.”
(Dan. 12:1)(Matt. 24:22)
Vêrder verklaar hy: Dat oor ʼn tydperk van drie en ʼn half jaar tydens die Groot verdrukking en wel tot aan die einde daarvan, die heiliges vernietig sal word: “... En as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word.”
(Dan. 12:7)
Die “Heilige volk” is geen spesifieke nasie of Kerk nie, maar is die opreg Heilige Gees weergebore Christene van die Here, uit elke stam, volk, nasie en taal van oor die hele wêreld!
In Openbaring. lees ons: “Dit is ook aan hom [die laaste wêreldorde] gegee om oorlog te voer teen die heiliges [die Heilige Gees se weergebore Christene] en hulle te oorwin.”
(Openbaring. 13:7)
Jesus self sê: “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle [die uitverkorenes] doodmaak; En julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van My Naam.
En dan sal baie tot struikeling gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.”
(Matt. 24:9-10)
“En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie. Maar ter wille van die uitverkorenes, sal daardie dae verkort word [tot drie en ʼn half jaar].”
(Matt. 24:22)
Let wel
: Hierdie voëlvrye slagting van die heiliges, vind plaas oor ʼn tydperk van drie en ʼn half jaar, net voor die koms van die Here Jesus op die wolke.
(Dan. 12:11)
Die “uitverkorenes” van die Here moet van al hierdie dinge baie ernstig kennis neem en hulself opnuut aanspoor om getrou te bly tot die einde toe.
Alleen, die toegewyde gelowige, rein van hart en opreg in die geloof, sal standvastig kan bly en die prys van lyding betaal.
Hulle sal oorwin deur die opregtheid van hul geloof en hulle innige opregte liefde vir Jesus!
Wanneer hierdie tydperk van drie en ʼn half jaar se verdrukking verby is, sal die Christendom feitlik uitgewis wees!
Ons durf nie nalaat om aan die opregte gelowiges die belangrikheid van hul innige opregte liefde vir Jesus en hulle vertroue op Hom te verkondig nie.
Besef hoedat Jesus met die aflegging van Sy lewe aan die kruis, vir ons wat Hom aangeneem het, met tere Liefde vrygekoop het van die sondeval en die ewige verderf!
Of ons dan lewe en of ons sterwe gedurende hierdie tydperk van drie en ʼn halfjaar Groot verdrukking, sal ons moet vasstaan tot by Sy wederkoms!
Want, “wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”
(Matt. 24:13)