Laai die dokument gratis af www.Lastweek.co.za
Druk hierdie bladsy
Gelowiges verafgod die dier

DIE MAG VAN SELF/GELOWIGES VERAFGOD REEDS DIE BEELD VAN DIE DIER!

 

Soos ʼn vrug of groente wat deur ʼn insek gesteek is en met verloop van tyd verrot, so het die “self,” sy bose natuur oorsprong, wat die gevolg is van Adam en Eva se ongehoorsaamheid aan GOD in die begin!

 

Met ander woorde; Adam en Eva se ongehoorsaamheid aan hulle Vader, is die gevolg van Satan se verleiding! Hulle innige band van liefde en eenheid met hul Vader, is deur Satan van hulle ontneem!

 

Die gees wat binne in die mens is, behoort aan GOD. Daardeur is die mens in ʼn band van liefde en eenheid aan GOD hul Vader verbind. Maar sedertdien is hul gees van GOD vervreemd en daarom passief!

 

Met die vervreemding van GOD is die mens deur ʼn hartseer VADER aan homself oorgelaat.

Sedertdien het die eiesinnige self ontstaan, en tot van dag toe, word ʼn diaboliese houvas deur Satan gedomineer op die self, wat geheel en al losstaande en onafhanklik van GOD is!

 

Om die rede, is wedergeboorte deur die Heilige Gees binne in die Volmaakte liefde van Jesus Christus, van uiterste belang vir die mens!

Met die vernuwing van ons gees deur die Heilige Gees, is ons weereens in ʼn geestelike band van eenheid en liefde verenig met GOD onse Vader!

 

Deur ongehoorsaam te wees aan die Heilige Gees se innerlike waarskuwings, is die Christen gelowige oorgegee aan die self, en word dus blootgestel aan bose magte wat die self oorheers!

Christene, wat doelbewus op die Internet, van die een na die ander nié-Christelike, vreemde, skadelike en negatiewe Webwerwe rondswerf, “verafgod” reeds die beeld van “die dier,” met name die televisie “beeld,” die rekenaar “beeld” en die selfoon “beeld.” Hulle besef nie wat dit tot gevolg sal hê nie; naamlik, dat GOD hulle verwerp!
(Open. 14 : 9 - 12)

 

Die persoon van self, met sy eie wil en begeertes, is daardeur (m.a.w. die beeld wat daarop verskyn) blootgestel aan verleiding en staan dus in konflik met die gelowige se diepe, innerlike geestelike afhanklikheid en heilige wandel met GOD.

 

Die televisie “beeld” en rekenaar “beeld,” met al sy verleidelike internet “beeldmateriaal,” het ʼn negatiewe effek op die Christen gelowige se geestelike wandel met GOD.

 

Daardeur word die gelowige blootgestel aan Satan se kragtige gees van verleiding, wat die gedagtes van die ongehoorsame gelowige, met allerlei skadelike begeertes oorheers.

Die ongehoorsame self, het deur middel van selfregverdiging (wat sê ek sal doen wat ek wil), die self, nou in beheer geplaas.

 

Met ander woorde: Deur die self, word die gelowige se hernude gees wat aan GOD behoort, nou onderdruk, en word die gees weer ʼn keer onderwerp aan passiwiteit. Die gelowige se hernude gees het die stryd van heiligmaking teen die self verloor!

 

Vir die gelowige raak dit nou al moeiliker om die negatiewe gevaar, van bogemelde invloede raak te sien, met die gevolg dat die Saligheid wat deur Jesus Christus bewerkstellig is, geminag word! Uiteindelik word dit onmoontlik om die Here in gees en waarheid te dien. En die wat na die vlees (self) wandel, kan GOD nie behaag nie! (Rom. 8: 8). Want die self stry teen die gees!

 

Satan se verleiding, stel die ongehoorsame Christen gelowige, wat oorgegee is aan die eie wil en begeertes van die self, weerloos teenoor die begeerlikhede van die vlees en so, met die vrug van bevrediging daarvan, word die gelowige ʼn slagoffer van sonde en ongeregtigheid. (Jak. 1: 12 -16) (Rom. 6 :23)

 

Dit is dan in werklikheid, hierdie onderdrukte en passiewe geestestoestand, wat die mense in hierdie wêreld en die tyd waarin ons tans leef, handhaaf!

“Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees” ... “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van GOD; mense wat ʼn gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het...” (2 Tim. 3 :1-9)

 

Die gevolg is, dat die Christen self, die genade van GOD en die ewige lewe verbeur!!!

“Die vrees van GOD is weg.” (Heb. 6: 4 – 6) Daarom is ons kinders op pad na die ewige verderf!

 

Maar aan die mens het Hy gesê: “Kyk, die vrees van die Here is wysheid; en om van die kwaad af te wyk is verstand.” (Job. 28: 28)

 

Om hierdie rede dan, het die Here in Sy wet beveel: “Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie.” (Exodus. 20: 3 - 5)

 

Nog minder enige vorm van “beeld” of “beeldmateriaal!” (Open. 14 : 9 - 12)

 

Paulus skryf: “Of watter ooreenkoms het die tempel van GOD met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende GOD, soos GOD gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle GOD wees, en hulle sal vir My ʼn volk wees.

 

Daarom gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ʼn Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” (2 Kor. 6: 16-18)

 

Vêrder skryf Paulus: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons, ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van GOD volbring.” (2 Kor. 7: 1)

 

Die liggaam van die weergebore Christen, waarin die opreg toegewyde liefde vir GOD die Vader van Jesus Christus in nederigheid gevind word, dien as die tempel van GOD, vir die Heilige Gees om in te woon!

 

Die self moet daagliks eerstens in gebed deur middel van sonde belydenis, gekruisig en oorwin word en tweedens, moet daar ʼn nuwe opreg nederige en toegewyde liefdes offer vir Jesus en GOD die Vader gemaak word!

 

Maar wanneer die sterkman-self, se eie wil en begeertes oorheers, dien die liggaam van die self as die sinagoge van Satan, waarin sy werke van verleiding, in die vlees manifesteer en bevrediging vind. Deur die ongehoorsaamheid van self word Satan gedien!

 

Die geringste begeerte, hoe onskuldig dit ook al mag wees, het sy oorsprong vanuit die self, wat alleenlik daarop ingestel is om die self te behaag! So veg die (wedergebore) gees teen die vlees (self) en die vlees (self) teen die (wedergebore) gees!

Die self (wat nie deur die krag van die Heilige Gees weergebore en met sondebelydenis gekruisig is nie), kan nie en wil nie en sal nie op die Here vertrou en Hom opreg liefhê en dien nie!

 

Die godsdienstige self wil ook nie homself aan GOD se Heilige Gees orde onderwerp nie, en sal letterlik enige iets in sy vermoë doen om sy werke in die vlees te regverdig soos byvoorbeeld, homself beroep op die “wet van die skending van menseregte” wat ʼn “New age” sielkundige demoon oorsprong het!

 

Alhoewel dit tot voordeel van die self se onversadigbare hebsug is, sal die godsdienstige self in alle vroomheid die kleed van geveinsdheid en skynheiligheid van die Kerk aantrek! (Matt. 23: 28)

 

Die godsdienstige self sal geloof in die Here met die mond bely, om sodoende, intellektueel (m.a.w. sonder die Heilige Gees se teenwoordigheid en samewerking) die Kerk se mense in die Naam van Jesus Christus en GOD onse Vader nog meer te besluier!

 

Al gee die godsdienstige self erkenning vir die Heilige Gees, is dit net uiterlik en is die self se

bediening kragteloos en nutteloos vir die redding van die (Kerkmense)! (Matt. 23:15)

 

Jaar na jaar en in alle vrome opregtheid, sit en luister die Kerk se mense na die intellektuele snert wat hierdie hebsugtige rowers van die Kerk in die Naam van die Here gorrel! (Psalm. 5: 10)

 

Hierdie arme Kerkmense, is tot hulle dood toe getrou en toegewy aan die Kerk! Moontlik deur die eeue heen, hoor hulle dalk iets wat gedoen moet word om daardeur gered te word!

 

Maar hulle word nooit deur die krag van die Heilige Gees weergebore nie. Hulle kan ook nie, want die godsdienstige self wat hulle intellektueel besluier, is self ook nie weergebore nie, en ken daarom glad nie die Persoon van die Heilige Gees nie!
(Matt. 23:13)

 

Die “gees” van verleiding is 24 uur aan diens om vir die “self” tydig en ontydig, bewustelik en onbewustelik te verlei! (2Tim. 3:13) (1Pet. 5:6-9)

 

AFGODERY: Die oomblik wanneer die self toelaat om verlei te word ongeag die geringheid daarvan, word afgodery inderdaad gepraktiseer! (2Pet. 2: 9)

 

Met ander woorde: Enigiets wat met die oë gesien word of met die ore gehoor word, hoe gering dit ook al mag wees, waarmee die self met vermaak, toelaat om deur middel daarvan verlei te word!

Enigiets wat die self met ʼn verwagting interesseer of amuseer, en toelaat om daardeur tot bevrediging verlei en gestimuleer te word!

 

Enigiets buiten die kuisheid van die huwelik waardeur die self toelaat om verlei te word, om in die wellus van die vlees, gestimuleer te word! (Matt. 5:27-32) (1Kor. 6:10-20) (Rom. 1:18-32)

 

Enigiets waarin Jesus die Seun van GOD die Vader nie gedank, geëer en verheerlik word nie, wat meer tyd geniet, of belangstelling opwek tot vermaaklikheid van die self as wat die Christen se gedurige en toegewyde verhouding met GOD die Vader is, dit is afgodery! (Kol. 3:1-“17”)

 

Vir die wedergebore “dienaar” van Jesus wat in Gees en Waarheid met GOD wandel (Joh. 4: 23-24), is die teenoorgestelde van bogenoemde die waarheid, naamlik: Die gelowige se gedagtes wat onbeteueld ronddwaal, skep voortdurend nuwe en stimulerende begeertes, idees en ideale wat geweier moet word!

 

Die gelowige moet die bogenoemde gedagtes en idealisme weerstaan en tot stilswye dwing! (Rom. 12:1-2)

 

Met ander woorde: Die weergebore en hernude gemoed van die gelowige, word nou deur die volhardende innerlike gebed en lofprysinge, met volkome oorgawe, onderworpe aan die Heilige Gees. Die self is nou deur die geloof met Jesus Christus gekruisig (dit is die kruisiging van die vlees)! (Rom. 6: 6)(Gal. 2: 20)(Gal. 5: 24) (Gal. 6: 14)

 

Die gemoed van die gelowige is nou passief teenoor die sterkman-self. (In die plek van die godsdienstige self, met sy omvangryke kennis van die letter, sy godsdiens, idealisme en sy menigte van dwalende gedagtes en begeertes.) inplaas vanuit die gedagtes van self, neem die gelowige se wedergebore gees, met sy innemende persoonlikheid wat aan GOD behoort (Sag.12: 1d) (Heb. 12:9c), nou die leiding vanuit die innerlike gemoed! (Efesiërs. 4: 23-24).

 

Sodoende, deur middel van die salwing (1 Joh. 2: 20 en 27), is die gees van die gelowige nou ontvanklik vir die Heilige Gees waarneminge, ingewinge en leringe, “Hy” sê Jesus; “sal julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik...” (Joh. 16: 13b-14a)

 

Die gelowige beweeg nou deur die nou poort met volkome liefde vir GOD en vir sy naaste, en bevind homself op die smal pad, die gemaakte pad van GOD wat na die ewige lewe lei, want daar is min wat dit vind! (Matt. 7: 13-14)

 

Daarom sê Jesus: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (Joh. 6: 44)

 

“Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, ...” (Joh. 10: 9)

 

Vêrder sê Hy: “Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh. 14: 6)

 

Met ander woorde; behalwe deur Jesus, is daar geen ander manier of geloof tot GOD die Vader en die ewige lewe nie!

Die weergebore gelowige word nou deur die Heilige Gees georden en met Sy vrug geïnspireer, tot die verskillende bedieninge en die gawes van die Heilige Gees.
(Gal. 5:22-26) (1 Kor. 12:1-11)

 

Hierdie roeping is tot die dood toe, onberoulik en onherroeplik!

Dit is ook hier waar die Heilige Gees dan met wysheid Sy weergebore dienaar ondersteun en bystaan! (Efes.1: 17-23)(Spr. 2:6)

 

Let wel: Die “Lewende WOORD,” nie die letter nie, is nou met insig en begrip, deur die werking van die Heilige Gees, lewendig in die mond en in die hart van die gelowige.

(Rom.10: 8) (Deut. 30: 14) (1 Pet. 1-23)

 

Paulus verklaar: “... julle is die tempel van die Lewende GOD ... en Ek sal in hulle woon soos GOD gespreek het!”

 

Gevolglik is dit belangrik wanneer die gelowige in gebed, hard of sag bid, dat die oë gesluit en die hoof in aanbidding gebuig word, om sodoende na binne te draai, na die innerlike, waar die gelowige se wedergebore innemende gees, een is met die Liewe Heilige Gees (nou verkeer die gelowige in die binnekamer en alle dwalende gedagtes is uitgesluit), “nou” praat die gelowige, deur middel van die Liewe Heilige Gees, normaal en in opregtheid (sonder om geveins te wees) met Liewe Jesus en met GOD die Vader! (Judas. :20) (Joh. 4:23-24)

 

Om op enige ander wyse te aanbid, met oop oë of nie, dit is ʼn valse godsdiens en daarom neig die gebed soos oor die algemeen, om nie vêrder as die plafon en die mure te beweeg nie, ongeag die intellektuele kundigheid van so ʼn gebed!

 

Wanneer u die uitspraak “Liewe” Jesus en “Liewe” Heilige Gees hoor, is dit omdat dié gelowige volkome die Liefde van 1 Korintiërs 13 belewe.

Liewe Jesus word nou deur middel van die Liewe Heilige Gees, gekoester as die Minnaar en die Liefling van hierdie wedergebore gelowige se innerlike hernude gees en eerbare gemoed. Wat dan ook die Tempel van GOD is soos Paulus verklaar! (2 Kor. 6: 16-18)

 

Nou het die woorde van Liewe Jesus, in hierdie gelowige se lewe in vervulling gegaan, as hy sê: “ Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie! (Mat 18: 3)

 

“...Want aan sulkes behoort die koninkryk van God. (Mar 10:14b) (Joh. 3:30)

 

Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele. En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My; maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ʼn meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.”(Mat 18: 3-6)

 

Vir die persoon wat nie met sondebelydenis, wedergebore is uit water en Gees nie, is dit onmoontlik om innerlik, soos ʼn kindjie te wees! Om dan op kinderlike wyse vir Jesus aan te spreek as Liewe Jesus en vir die Heilige Gees, as Liewe Heilige Gees en vir GOD as onse Liewe Vader! Hierdie liefde is volmaak en dien sonder vrees! (1 Joh. 4: 18)

 

Want alleenlik deur wedergeboorte, wat ʼn voorwaarde is en nie ʼn opsie is nie sê Jesus, kan ons ʼn kind van God die Vader word, ten minste as die Heilige Gees in ons is!
(Gal. 4:5-7)

 

GOD die Vader, deur middel van die Heilige gees, deursoek die aarde, na manne en vroue, seuns en dogters, vir sy koninkryk, wat vreeslose helde en heldinne is, wat sonder om te veins kan sê Liewe Jesus, Liewe Heilige Gees en vir GOD, onse Liewe Vader!

 

Die Christen se opregtheid voor GOD, word nie deur die motief van sy algemene maar verpligte naasteliefde gekwalifiseer nie, soos byvoorbeeld; sy werke en dade wat nie gesien kan word nie!

 

Maar die opregtheid van die Christen se geestelike heiligmaking, word deur die Heilige Gees daagliks gemeet, aan die Christen se weergebore innerlike en verborge, maar opreg toegewyde liefde vir Jesus Christus en vir GOD die Vader!

 

Julle het gehoor daar word gepraat van jou self-beeld wat jy moet hê en koester. Maar ek sê vir julle: Solank as dit vandag genoem word en elke anderdag wat die self nie deur middel van sondebelydenis, in Christus Jesus gekruisig bly nie, dan word hoogmoed en trots (wat die self-beeld van die Satan weerspieël) gehandhaaf!

 

Dit beteken een van twee dinge; Eerstens die persoon is godsdienstig onder die Kerk se demonies sielkundige invloed, wat op die self-beeld van die persoon ingestel is.

 

Tweedens met wedergeboorte wat deur die Heilige Gees binne in die Volmaakte Liefde van Jesus Christus bewerkstellig is, is die self nog nie deur middel van sondebelydenis in diepte, aan die kruis saam met Jesus afgesterf nie! Daarom met ’n skuld gevoel van sonde en as gevolg daarvan die gesukkel van ’n val en opstaan lewe!  (Rom. 6:1-23)

 

Dit is wat dit beteken as Jesus sê: Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!  

Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.  

Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.   
(Open 3:15-17)

 

Self-bejammering is die nagevolge van die “self-beeld” se vernedering! Iemand wat homself of haarself bejammer doen sonde voor die HERE!  Self-bejammering is ’n gruwel voor GOD en is die gevolg van ’n skande.  Dit is vir die opregte Christen wat deur die Heilige Gees weergebore is ’n teken dat die self nog nie afgesterf is nie!  Met ander woorde: Daar is sonde teenwoordig, wat nog nie in diepte voor die Liewe Heilige Gees uit bely is nie!

 

Na alles het onse Liewe Vader die Liewe Heilige Gees as Trooster vir ons gegee, wat saam met ons alles wil deurmaak, of dit vreugde en blydskap is, dan is Hy teenwoordig om daarin te deel, en as dit hartseer en verdriet is, dan is Hy teenwoordig om vir jou daardeur te vertroos en as dit sonde is, is dit Sy nering om vir jou daaruit te verlos!

 

Die Liewe Heilige Gees is altoos teenwoordig in Sy wedergebore liefling, behalwe as daar sonde teenwoordig is of gepleeg word!

 
 

Terug na bo
Druk hierdie bladsy
Stuur hierdie blad aan iemand
Voeg tot gunstelinge
Kopiereg ©2012 Laastweek.co.za - Alle regte voorbehou